Menu Close

Die Ou Tronk

Die Ou Tronk is gebou in 1888 (sommige bronne 1869) en is eers gebruik as die eerste hospitaal en as ń gevangenis tydens die ABO. Die tronk was by die ingang na Heidelberg en het gewaarsku: Hier geld Wet en Orde.

Sedert 1963 het die gebou leeg gestaan nadat die nuwe tronk gebou is, maar gelukkig het die MOTHS (Suikerbosrand Shellhole) die gebou in 1992 oorgeneem, pragtig herstel en huisves huidig ń kosbare versameling oudhede en geskiedenis.

Die Ou Tronk is bekend vir die Witvlaginsident 25.9.1901 tydens die ABO. Captain Ronald Miers aan die Britte se kant het onder ń wit vlag met sy perd uitgery na die Boere. Hy wou die Boere oorreed om oor te gee. Waarnemende Veldkornet Salmon van As en Louis Slabbert het uitgery om sy saak aan te hoor. Nodeloos om te sê, hulle weier oorgawe. Miers reik na sy rewolwer, waarop Van As hom doodskiet.

Na die Vrede van Vereeniging gee Van As hom oor. Hy word verhoor en die doodsvonnis word uitgelees op die Markplein. Van As word gevonnis sonder enige ooggetuies of kans op appél. Tydens die onbillike verhoor beweer die Britte dat Miers ongewapen was en Van As hom geskiet het ten spyte van ń wit vlag. Die volgende oggend vroeg sterf Van As voor ń vuurpeloton van 8 man teen die muur van die Ou Tronk. Die koeëlgate steeds sigbaar teen die muur. Sy lyk word in ń gat gegooi en ń doringboom bo-op geplant. Hy word in 1903 herbegrawe in die Kloof Begraafplaas.